Monday 11 July 2016

Robben Eiland

Op 22 Junie 2016 het ek my Robben eiland swem suksesvol uit gevoer. So het iets moontlik geraak wat ek sedert my kinderjare my aan verwonder het, maar nooit kon dink dat ek sou kon reg kry nie. Dit was nie maklik nie hoor! In teenstelling met my 10 km swem 'n maand tevore waar ek deur die water gegly het was hierdie swem 'n perd van 'n ander kleur.

Op pad na Big Bay en verby Atlantis val die buite temperatuur na 0 grade. Ek maak of ek nie kennis neem nie. Lindsay de Kock doen ook haar 21ste  Robben eiland swem saam met n ander boot en ons ontmoet haar en Derrick en sy span by die klub huis. Lindsay is gesout en het die regte goed aan- ek leer. Sy het rubberbootsies en 'n blink lang "skipants" aan. Sy het ook haar lekker Dry Robe met warm handdoekstof binne en 'n  waterwerende buitekant aan.

Toe ons die boot in die water sit, is ek natuurlik kaalvoet. Debbie gee my 'n tweede digte baadjie wat my bolyf warm en droog hou maar twee branders slaan oor die boot se agterkant en ek is nat tot by my bo bene. Derek verduidelik dat die "Chill" faktor behels dat die water op jou lyf verdamp met elke armhaal waar n gedeelte van jou lyf aan die oppervlakte blootgestel is en jy dus kouer word.  Ek ervaar hierdie "chill" faktor reeds op die boot met my nat broek wat in die wind droër word en ek wat kouer word.

As ons die eiland bereik is daar nie tyd om my te bekommer om in die koue water in te gaan nie- my grootste vrees vir die dag, want ek moet uittrek. Ek smeer vaseline, maar tot my spyt nie genoeg nie en die nuwe swembroek' die soutwater en my teer onder arms (onthou 'n maand terug was hier ook wonde) is binne 'n uur geskaaf en aan die einde van die swem rou. (Dit neem 2 weke om te herstel)

Ek spuit anti mist goed in my bril en wys vir Wiekus, my skoonseun om dit ook te doen as ek dalk my ander bril benodig. (Wat wel gebeur want my bril lek en ek dink nie daaraan om net die bandjie stywer te trek nie- "brain fog" as mens koud is)

Dan is dit tyd om in die water te gly soos Debbie verduidelik. Die water is verrassend warm en toe besef ek hoe koud ek op die boot geword het. (Die water temperatuur is 13,5 grade aangenaam vir koue water swemmers, steeds koud vir die oningewydes.) Dit is opwindend om tussen die bamboese na die land te swem en op 'n rots die swem te begin. Ek swem weer tussen die bamboese terug na die boot en die oortog begin in alle erns.
Fotos geneem deur Derrick Frazer


Ek het al dikwels gehoor dat my swem vriendin Monene Murray en ook ander swemmers sê dat hulle nie hul ritme kon kry nie. Tot op hierdie dag het ek dit nog nooit ervaar nie en was elke swem vir my net lekker. (Natuurlik as die water soos sy voel en mens daardeur gly is dit nog meer spesiaal) Vandag met my groot swem op hande ervaar ek hierdie moed brekende verskynsel vir die eerste keer. Ek is die heeltyd bewus hoe koud ek is en my swem voel nie vloeiend en gemaklik nie. Elke haal is eintlik 'n stryd.

Ons stop na 'n uur vir bietjie warm tee. Toe ek weer stop vir tee na 'n verdere halfuur begin ek naar voel. Die see skommel my en daardie seesiek waarvan Terry Thompson al gepraat het ervaar ek nou vir die eerste keer. Dit raak net erger en ek voel eintlik verskriklik. Ek begin die land sien maar dit lyk oneindig ver. Nou begin ek wonder of ek nie maar na die boot moet swem en vra dat hulle my uit haal nie. Die gedagte dat ek dan net hierdie lyding weer moet oordoen (en ook deur die winter moet aan hou om soggens in die donker in die buite swembad te moet eoefen) laat my deurdruk.

Die land raak duideliker maar vreemd, ek sien nie die Life Saving club nie maar net 'n klomp wit geboue. Die seestroom (waarvan ek onbewus was) het my lank op een plek vas gehou en toe verby die baai gedruk. Ek kom dus aan die Noorde kant van Big Bay nader aan die strand, Toe ek dink dit gaan nooit ophou nie, duik Debbie in en die boot draai om- ja waarlik ons is naby die strand en moet net deur die rowwe branders gaan om op land te kom. Ek kon die strand amper soen, maar sukkel om regop te bly. Gelukkig is my swaer, Gert daar om my reg op te help hou en saam na die klubhuis te begin loop. Toe ons behoorlik uit die water is kom my man ook by- so lekker om hom daar te sien en Annake kom aan gehardloop met die handdoek. Ons uit kom plek was vir hulle onverwags en hulle moes ook terug draai klubhuis toe om vir Lindsay handdoeke te kry aangesien die stroom haar ook uit die baai gedruk het.

Carla help my aanttrek en al is ek warm toe gewoel bly ek steeds naar. Verligting kom eers na ek opgooi- net n bietjie tee en die happie piesang wat ek geëet het. Ek sien ook eers 4 uur later kans om te eet- n groot fout om nie dadelik 'n "energy Bar" of so iets te eet nie. Ek is seker ek sou dan gouer beter gevoel het. Ek sit die heel middag met 2 watersakke en in n kombers gewikkel in die son by ons huis op Melkbos.

Wat n wonderlike swem moes wees eindig wel in sukses maar ook in uiterste teleurstelling. Kapt. Mathew Webb het gesê: ( na sy Engelse Kanaal swem )" Nothing Great is easy", maar dit is vir eers 'n skrale troos. Elke vorige swem was net suiwer genot- en nou hierdie, my groot swem waarvoor ek al drie jaar oefen, so n stryd?

En hier leer ek op amper 60 'n belangrike lewensles; die uitvoer van drome bring nie altyd die genot en tevredenheid waarvan jy gedroom het nie. Hiermee wil ek nie sê dat mens nie moet droom nie. Teleurstelling is nie altyd net omdat jy nie jou droom kon bereik nie- mens kan ook jou droom volvoer en steeds teleurgesteld wees.

Maak dus seker oor jou drome- want drome verg ook opoffering. As die opoffering ander mense raak moet mens jou drome goed bedink. Die gevolge as jy halfpad moet tou opgooi, of as jy jou droom verwesenlik maar 'n klomp ander goed in die proses verloor- is die droom dit alles werd? (Een rede waarom ek heelwaarkynlik nooit sal oorweeg om die Engelse kanaal te swem nie-nie net alleen verg dit opoffering van jouself nie, maar ook van jou gesin en gesinsfinansies.)

Die teleurstelling het ek nou verwerk en my lesse geleer. Ek is reg vir volgende jaar se Freedom swem van Robbeneiland. Ons gaan dan met die Ferry oor en sal nie koud word voor die swem nie. Die swem is in April en die buitetemperatuur is dan warmer. (Alhoewel die jaar was dit maar lekker koud op 2 April)

Alles is spanwerk. Sonder my gesin en familie se ondersteuning met al my swemme was niks moontlik nie. Ook dankie aan Derrick en sy span om my te help om hierdie droom te verwesenlik (die teleurstelling deel is nie julle skuld nie). Aan alle organiseerders van Open water swem geleenthede, Derrick Frazer, Warren Fialkov, Midmar Mile, WP Aquatics, Cape Mile en Calais Charity swim wat my vir hierdie geleentheid geskool het, ook 'n groot dankie. Dan natuurlik ook dankie aan Total Immersion South Africa (Georgie en Nicola) en Terry Laughlin asook my internet coach Mat Hudson waar my swem avontuur begin het en met Mat se hulp waar ek steeds verbeter.

Ek droom steeds!
Marié