Friday 4 March 2016

Around the Rocks- Rock

Hierdie swem wat deur Derrick Frazer en sy Freedom Swim span aan gebied word, is een van die hoogtepunte op die swem kalender vir my. As jy nog nie aangepas het by die koue water nie, is hierdie 2,4 km swem nie te lank nie en die opkoms en deelname van meer as 200 swemmers met 203 wat dit voltooi het, getuig daarvan.

Derrick is soos gewoonlik haastig om ons aan die swem te kry. Ek het n lekker posisie in die water maar dan roep hy ons uit op die sand. Die jong mense hardloop almal in die water in, maar ek weet ek swem in elk geval nie so vinnig soos hulle nie. Ek gaan maar so vinnig as moontlik in om te begin swem. Die begin is 'n gemaal van arms en swemmers wat half bo-oor mens swem. Dan kom die seebamboes. Ek is grillerig as ek in Melkbos oor die bamboes swem, maar hier is nie n keuse nie, want met swemmers aan weerskante en voor my kan ek nie uitswaai nie. Ek sit op n kol bietjie vas in die bamboes en kry 'n ekstra skop van 'n ander swemmer.

As ons eers rondom die eerste booi is, is die see wyd en is daar baie plek. Ek is dikwels gedisoriënteerd sodra ek om 'n booi is. Dit voel my of ek na links moet swem maar die ander swemmers peil op die diepsee af. Ek volg my eie reël- moenie hulle "second guess" nie, volg hulle!

Die golwe is groot en ek geniet die swem terdeë. Ek swem in 'n groot groep met van tyd tot tyd 'n swemmer naby my, dan volg ek hulle pas en ons swem lekker vinnig. Ek ruik die eilandjie waar ek verlede jaar met Robbie die rob kennis gemaak het.

Kort daarna gaan ons om die booi en swem ons teen die stroom na die middel van die baai. Vir my voel dit of ons wal toe swem want ons swem nie na Tafelberg soos ek gedink het nie- Tafelberg is aan my regterkant. Die see is nou ontstuimig en ek sien hoe die swemmers voor my op die rand van 'n golf swem.

Hierdie gedeelte het blykbaar 'n stroom maar ek swem onbewus daarvan. Daar is so n paar swemmers wat uit die niet vinnig verby my swem- dan wonder ek altyd: Waar was julle dan die heel tyd en waar kry julle nou die spoed? Ek draai self my vinniger swem kraantjies oop- vasbeslote dat hulle my nie gaan wen nie.

Dan is ons om die laaste booi en moet ons uitswem strand toe. Ek vang drie branders gedeeltelik en die een rol my so bietjie, maar ek is 'n ou "body surfer" so dit skrik my nie af nie. Op die strand is dit 'n hele ent na die tyd tafel toe en weer eens hardloop 'n klomp jong mense voor my uit- tenminste het ek in die water darem by gebly!

Die amptelike tyd vir my is 48 minute 39 sekondes. Op my Garmin is my swemtyd 44:39- so die ander 4 minute kan ek verbeter as ek kan hardloop! Ek is 117 de uit die 203 swemmers en 21 ste uit die 33 dames wat in swembroeke deel neem. Claire Waumsley wat die jaar ook n Robbeneiland swem wil aanddurf, maak klaar in 1 uur 19 minute- sy is 68- ek is baie trots op haar.

Jean Degenaar wys waartoe n ouer dame in staat is met haar briljante tyd van 37:03 wat haar in die 16 de plek van alle deelnemers plaas en 5 de onder die vroue. Wel gedaan Jean! Ek is nie moedeloos nie, maar weet dat ek nie regtig naby Jean se tyd sal kan kom nie, dit inspireer my wel!

My volgende lekker swem is op die ORanjerivier, terwyl my gesin roei hoop ek om bietjie te swem.

Geniet dit waar jy ook al swem.

Marié

No comments:

Post a Comment