Saturday 19 September 2015

Die Seisoen begin

Met die Freedom Swem Series en elke 1 ste Sondag van die maand swem, eindig ons swem seisoen nie eintlik nie. Ek het familie troues gehad wat mee gebring het dat ek nie die Publieke vakansie dae se swemme kon doen nie en was ook nie hier op twee Sondae nie. Afgesien daarvan was die water so koud en dit nog so donker soggens dat ek nou eers regtig weer in September begin oefen het. Ek swem elke dag n bietje verder en het gister eers  3 km geswem, die afstand wat ek aan die einde van Mei elke dag geswem het. My doel is om ten minste 5 dae in die week te swem, maar as ek nie probeer om elke dag te swem nie, eindig ek die week met net drie of 4 dae.

In die wintermaande het ek weer n TI kursus gedoen, by Nicola Joubert die keer. Dit was weer baie leersaam en ek was eintlik geskok om op die video te sien hoe sleg ek swem. Ek roteer nie behoorlik aan my linkerkant nie en vergeet skoon van die "patient lead hand". Ek kan die kursus maar elke jaar herhaal. Ek het die "two beat kick" uiteindelik bemeester en moet nog net die tydsberekening verfyn sodat dit n behoorlik geintegreerde skop is.

Die wonder van TI is dat mens nooit op hou leer nie en elke dag die uitdaging het om beter te swem as die vorige dag.

Die water is soggens 15-16 grade en alhoewel die seewater van 11 en 12 grade nie vir my n probleem was in Mei nie, is dit nou weer 'n mssie om van vooraf gewoond te word aan die koue water. Dit is net die in klim wat n probleem is, as ek eers in is, is dit net pure plesier. Ek het al heroorweeg om nie die 24 ste September die see swem te gaan doen nie, maar ek moet iewers begin en gaan net n myl swem. Ek gaan maar soggens met my warmfles en watersak swembad toe sodat ek makliker kan opwarm. Ongelukkig is die geyser net aan as daar gaste is by die Rugby Performance Club en kan ek nie altyd met n lekker warm stort my swem afsluit nie.

Nou het ek al gesien dat iets soos die koue en die koue water maklik n demper op my lus om te gaan oefen te plaas. Daarom fokus ek net om op te staan, my warm fles te maak en dan te ry. Ek dink nie verder nie- dit is die enigste manier om die gewoonte te vestig. As ek eers reg is om in die swembad te klim, het ek geen ander opsie nie. Ek kan nie net weer die 8 km onverrigter sake terug ry plaas toe nie en moet maar in klim. Dan is dit net 5 minute en ek swem heerlik.

Ek het al 22 km hierdie maand geswem- my Garmin hou vir my mooi boek van my afstand en tye. Ek is regtig obsessief oor my horlosie en my tye. Ek swem weer teen dieselfde spoed as wat ek teen die einde van Mei geswem het. Al konsentreer ek hoe hard op my vorm en tegniek sien ek nie n verbetering in my tye op n daaglikse basis nie. Ek weet nie of ek regtig vinniger kan swem nie? Wat ek wel op gemerk het toe ek nou die dag n ou swembroek aan gehad het wat al sy elastisiteit verloor het, is dat ek baie stadiger geswem het. Ek skryf dit daaraan toe dat die swembroek meer water absorbeer en dus swaar is en weerstand veroorsaak. Dit beklemtoon net weer vir my die feit dat my liggaam in die optimale vorm in die water moet wees om die mins moontlike weerstand te veroorsaak.

Ek sien uit na n seisoen waarin ek lekker kan oefen. My doelwit vir hierdie seisoen is om my swem te geniet, te werk aan my swem tegniek en indien moontlik n bietjie vinniger as die vorige seisoen te swem.

Ek sien julle in die water.

MariƩ

No comments:

Post a Comment