Sunday 22 March 2015

Kampsbaai

Die swem begin vinnig in yskoue water. Derrick gee ons nie kans om twee keer te dink, om draai, te oorweeg of koud te word nie. Die eerste deel see in swem ek lekker en my nuwe bril maak dit n plesier.

Dan maak ek n fout toe ek om die booi draai. Van die land het dit vir my gelyk of ons na ons by die booi gedraai het dwars oor die baai swem. Die ander swemmers mik reguit land toe en ek is verward. Ek stop en kyk en weet nie lekker watter koers om in te slaan nie. Ek begin weer swem maar stop en nog n klomp swemmers gaan verby my. Ek besluit om dan maar ook in dieselfde rigting as hulle te swem maar voel die heeltyd verward en asof ek in die verkeerde rigting is.

Dan sien ek die booi en voel meer gerus. Nou is ek egter op my eie en die water is baie koud. Ons swem dieselfde roete drie maal. Daar is ook  ander deelnemers wat net 1 myl swem en dus een maal om die twee booie en dan nader aan die land swem. Dit verwar my ook eers weer voor ek sien na watter booi ek moet mik.

Die volgende rondte is ek meer gemaklik want ek weet nou dat ek land toe moet mik. Met die derde rondte raak ek baie koud. Naby die eindpunt voel dit vir my of ek baie lekker swem en glad nie nodig het om asem te haal nie. Toe weet ek dat ek by' n gevaar punt is. Ek het  op daardie stadium 'n roeier op 'n bord by my en kan net konsentreer om te kyk waar sy is.

My sussie is gelukkig by die eindpunt en gaan help my om vinnig in droë klere te kom. Ek is soos n zombie en kan net soos n dooie mens met my warm watersak en kombers sit en kyk terwyl die prys uitdeling plaasvind. My sussie en haar man besef ek kan nie huis toe ry nie en sy ry my motor tot op Melkbos. Daar kan ek in 'n warm bed weer tot verhaal kom.

Alhoewel ek altyd baie koud na 'n swem is, is dit my ergste kennis making met hipotermie. Ek glo die verwarring wat ek ervaar het en die stadiger swem terwyl ek probeer uit maak het waarheen om te swem, het baie hier toe by gedra. Natuurlik was die water van 10 tot 11 grade ook n groot bydraende faktor. Ek swem die drie myl in 1 uur 48 minute. Elke swem is anders en mens kan dit nie vergelyk nie, maar ek het die vorige week die 5 km in 'n baie korter tyd af gelê. Ek het baie tyd verspil met my "verwarring" en leer n goeie les- moenie die ander swemmers "second gues"s nie- en as hulle verkeerd is wees eerder saam met hulle verkeerd!

Wat sou ek doen as my sussie nie daar was om my te help nie? Ek sou beswaarlik in my droë klere kon kom sonder haar hulp. Dan sou ek maar in my warm motor gesit het en heel waarskynlik ook bietjie geslaap het tot ek beter voel en dan huis toe ry. Dit sou baie lank duur en ek is maar net weer bewus dat ek maar iemand saam met my moet hê op my swem om veilig te wees.

Hipotermie is n koue water swemmer se nommer een vyand. Hulp van familie of die organiseerders is onontbeerlik. Warm watersakke, sokkies aan jou voete en n mus op jou kop help baie om na die swem te herstel. 'n Warm drankie soos die hot Chocolate wat die organiseerders gereed het help ook om mens van binne warm te maak. Ten spyte van die nare koue as mens se "core" temperatuur so verlaag bly die swem net te lekker en maak dit die moeite werd om hierdie slegte nagevolge te trotseer.

Sien jou in die koue water.

Marié

No comments:

Post a Comment