Saturday 14 March 2015

Die lekkerste swem

Die lekkerste swem vir baie swemmers is die jaarlikse swem by Langebaan om die eiland. Dit was vir my ook regtig n baie besondere swem en defnitief een van my lekkerste swemme ooit- Hawai tussen die skilpadjies wen wel met n kort kop.

Ek het gedink dat Langebaan self al in die strandmeer is, maar dit is eintlik nog deel van die see hoewel in n baie veilige baai. Die water was nogtans koud, n goeie 14 grade. Mens swem reguit na die eiland en draai dan regs om met die eiland aan jou linker skouer daarom te swem. Daar was lieflike see bamboes en ander onderwater plante waaroor mens n groot gedeelte van die tyd geswem het. Dit is vir my heerlik as ek so oor hierdie goed "vlieg". As die bamboes so wieg in die water lyk dit of mens nog vinniger swem.

In die begin was ek saam met n paar ander swemmers, maar hulle het vir my weg geswem en ek het weer vir n paar ander weg geswem. Aan die ander kant van die eiland het ek vir n lang ruk alleen geswem. Elke slag as mens om n blinde draai gaan sien jy dat jy nog nie die eindpunt kan sien nie en dan ewe skielik is die einde sommer baie naby.

Ek swem die laaste stuk met ekstra woema. Ek vergeet om my horlosie aan te sit en doen dit eers as ek n kwart van die afstand af gelê het. Ek swem teen n spoed van 1: 52 min per 100 meter maar dink dat die gety my plek plek gehelp het. Ek voltooi die swem (3 km volgens die organiseerders) in 56 min 34 sekondes.

Ek is glad nie naby die wenners nie, tog voel elke swem soos n oorwinning. n Oorwinning oor die elemente, die uitdaging wat die hoof gebied is en doelwitte wat ek vir myself gestel het wat bereik is. Self voldaan ry ons na Melkbos waar ons oor bly en ek uit rus vir die volgende dag se swem.

Moenie hierdie swem in 2016 mis loop nie!

Marié

No comments:

Post a Comment